Mosbeskuit
Rate this recipe
grapes — mashed |
Ons verskil altyd oor wat nou lekkerder is, varsgebakte mosbolletjies of dié wat uitgedroog is. En of dit anys moet inhê of nie. Ek hou van uitgedroogde mosbolletjies met anys. My pa hou van dag oud (of meer) beskuitbrood wat gerooster is, met moskonfyt oor. Hoe ook al, dit bly heerlik, die geur van mosbeskuit. Dit word natuurlik berei van vars soetmos van wit druiwe wat al lekker aan die gis is. Hanepoot is veral lekker, omdat dit ook ’n baie geurige druif is. Die wynmaker moet ook weet wat die voornemende bakker vra: Die doppe moet al bo-op die gistende mos dryf en al begin koek het, dan kan hy onder die kors vir jou mooi helder mos aftrek. En jy vra nie baie nie, net ’n bottel vol mos. Gee vir hom ’n broodjie uit jou baksel as ruil. Ek moet nog die wynmaker teëkom wat só ’n ruil sal weier. Die probleem is dat mosbeskuit net in parstyd gebak kan word, maar die lus hiervoor het weer gesorg dat planne gemaak word. Vir hierdie beskuitbrood kan ’n mens ook rosynegis maak van pitrosyne. Dis ’n rustige storie wat jy oornag aanpak: Eers maak jy jou gis, dan jou insuursel, dan knie jy, dan rys dit, en dan knie jy af en rys dit weer, dan maak jy jou beskuit op en laat dit weer rys, en dán eers bak jy dit. Talmkos – slow food – inderdaad. Indien jy mos in die hande kon kry, maak jy die resep net so, behalwe natuurlik die gis van die rosyne.